{ARGIEF}

Genade-vlerke

Genade-vlerke
Genade is soos sagte reën wat oopsprei oor dorre grond. Dit was droog in die Overberg tydens planttyd, vanjaar. My mooie blouoogman het dag na dag van voor dagbreek tot laatnag aanhou plant. Geloof in God het die vuur van hoop in sy hart volhardend laat brand. Hier en daar het ‘n beloftetjie van reën uitgesak, maar die grond was nie deurnat nie. My man het aanhou plant want die saad moet in die grond. Die dag net nadat hy al die lande klaar geplant het met koringsaad, garssaad, hawersaad en canolasaad sak die sagte reën uit en sprei oop oor die klaar geplante grond.
“ek het ‘n boer sien dans …
met sy hoed in die hand –
Genadewater, …, hierdie reën”
(Lize Beekman)
Genade-reën gee vir ons drome vir ‘n genade-oestyd. Ons weet en ons ken die storms wat kan woed tussen planttyd en oestyd. God se Gees is ons genade-vlerke wat ons laat vlieg in Sy krag met drome in ons oë, want ons weet Ons Vader is vir ons baie lief.